Saturday, February 12, 2011

Kan ek jou vertrou...



Deur ervaring is ek gedwing
om my hart en siel
met hoë mure te omring

Ek het streng wag gehou
niemand naby
my diepste vertrou

Maar nou staan jy
voor my met oë wat vra
deel jou tog met my

Die sleutel van die poort se hek-
sal ek aan jou gee
ook die kaart na sy presiese plek

Eenkant staan,
jou toelaat om
my diepte binne te gaan

Laat kyk in my sielsfontein
bron van my lewe
maar ook bêreplek vir pyn

Sal jou vingers met myne die klawers vind
ons soete melodieë laat klink
totdat ons siele verbind

Om dan saam wag te hou
oor ons diepte........
Kan ek jou vertrou?

Tuesday, February 8, 2011

Oud word




My lewe, so vol planne en idees.
Dan skielik die ouderdom
kan dit wees?

Kosbare jare so snel verby
byna ongesiens deur die engte
het my uurglas se sand gegly.

Alles ‘n gejaag na wind
‘n gedurige soeke
tog so weinig gevind.
Net die stille besef –
geen skepsel is bo
sterflikheid verhef.

Soos die foto’s in my laaikas
vaagweg nog die herinneringe
aan tye wat was.

Geboë en ineengekrimp
het winter se ysige vingers
my siel alleen gevind.

Nou ‘n maklike prooi
vir hom wat die grys kombers
oor my kom gooi.