Bianca en die blou blasie.
Laat middag, 27 Februarie 2010, op Hartenbos se strand. Bianca se eerste kennismaking met Physalia utriculus. Hier volg `n kort weergawe van die commotion daarna. Twee ouerige locals stap nader waar ons besig is om koorsagtig hotnots vygies op die strand te verpulp en aan Bianca, wat op die top van haar stem protesteer, se been te probeer smeer. Hulle gee raad van uriene en handy Andy. Ons het nie een van dié twee geneesmiddels byderhand nie en jaag vir Hartenbos apteek. Die apteek is toe. Mall toe na Click's apteek. Bianca skree blou moord. By Click’s gee die jong apteker een kyk na Bianca, wie se klein tongetjie teen meer as die toegelate decibels vir openbare geraas vibreer, skrik haar gat af en gil ons moet liewers dokter toe. Ons vat pad na die staats hospitaal se buite pasiënte met Bianca wat nou `n oktaaf hoër gil. Vul die vorm in en try terselfdertyd om Bianca te probeer kalmeer. Uiteindelik gee `n suster aandag en deel ons mee dat hulle nie kinders jonger as 3 behandel vir so iets nie, (kon die "box" wat my die vorm laat invul het dit nie in die eerste plek genoem het nie) ons moet Fanie se Apteek toe. Met Bianca as sirene, jaag ons vir Fanie se Apteek. Daar aangekom, staan daar klaar `n ry mense voor die aptekers toonbank, maar Bianca skree vir ons plek oop voor in die ry terwyl hulle aan weerskante van die gangetjie opdam soos die rooi see. `n Suster neem ons na die konsulteer kamer en tien minute later is Bianca se alarm afgeskakel en ons kry koers huis toe. Laat aand terwyl juffrou rustig slaap, sak ek neer in `n stoel op die stoep met `n drie dubbele Whisky, sonder mix, om my senupunte wat soos ystervark penne staan net weer in lyn te kry.